Trou begroting advies

begroting


Marle van Someday Sooon vertel ons bietjie meer oor geldsake en begrotings wanneer dit kom by Troues, definitief iets waarmee mense baie sukkel. Om verloof te wees en jul groot dag saam te beplan is so n onvergeetlike en lekker ervaring, mens wil regtig nie he die begroting moet n teer saak wees nie.  Tog, met al hoe meer paartjies wat deesdae self vir hul troues betaal, kan geld verseker n rol speel en is dit dus noodsaaklik om van die begin af oop kaarte te speel oor elkeen se geldelike bydrae en wat jul algehele begroting is.

Eerstens moet mens vasstel wat elke party (die verloofdes en hul ouers, indien moontlik) bereid is om by te dra vir die groot dag en dan n volledige begroting op te stel wat letterlik alles vir die troue insluit – van die vanselfsprekende items soos die venue en blomme, tot die items wat dikwels vergeet word, byvoorbeeld addisionele klank of verhuring.


Tradisioneel het die bruid se ouers/familie vir die volgende items betaal:
  • Die seremonie area/kerk
  • Die bruid se rok, skoeke, juwele en ander bykomstighede
  • Die blomme vir die seremonie area, onthaal area en die ruikers vir die strooi- en blommemeisies
  • Fotografie en videografie
  • Vervoer vir die bruid en strooimeisies na die kerk en onthaal area
  • Alle uitnodigings en skryfbehoeftes
  • Die bruidegom se ring
  • Als wat ingesluit is by die onthaal: Spyseniering, drank en musiek
  • Middagete vir die bruid en haar gevolg die dag van die troue

En was die bruidegom se ouers vir hierdie items verantwoordelik:
  • Die dominee se fooi, sowel as die huwelikskontrak
  • Die bruidegom se troupak en skoene, sowel as enige ander bykomstighede
  • Die bruid se ruiker, korsette vir die ma’s en oumas, asook die knoopsgatruikers vir die pa’s, bruidegom en sy gevolg
  • Die wittebrood en alles wat daarby ingesluit is
  • Die bruid se verloofring en troupand
  • Die ‘rehearsal’ ete die aand voor die troue
  • Middagete vir die bruidegom en sy gevolg die dag van die troue

Deesdae is hierdie ‘reels’ nie werklik meer geldig nie en kan die paartjie self besluit wie vir wat betaal.

Ons almal weet hoe maklik dit is om van die ‘leliker’ deel van die troue te vergeet sodra al die mooi rokke en blomme en venues in sig kom, so hier is n basiese opsomming van min of meer hoeveel spandeer moet word per trou-item. Mens kan wel n bietjie rondspeel en meer geld spandeer op iets wat werklik vir julle belangrik is (bv. n uitstekende fotograaf) solank  julle net die res van die begroting  ooreenkomstig aanpas.

  • Onthaal & Seremonie:  17%
  • Spys & Drank: 22%
  • Troukoek: 1%
  • Blomme & Dekor: 12%
  • Beligting: 3%
  • Vermaak & Musiek: 7%
  • Fotografie & Videografie: 12%
  • Skryfbehoeftes: 2%
  • Vervoer & Verblyf: 2%
  • Trourok & Troupak: 10%
  • Kelners: 3%
  • Addisionel verhuring of meubels: 2%
  • Dominee: 1%
  • Hare & Grimering: 2%
  • Ekstra: 4%

begroting



Indien julle self vir die wittebrood betaal, onthou om dit ook in te reken. Om bietjie te sny aan die begroting, kan die volgende opsies oorweeg word:
  • Hou die seremonie en onthaal by dieselfde plek, dus spaar jy op venue-kostes, sowel as vervoer.
  • Vra jouself die volgende vrae voor jy enige iets vasmaak: Gaan ons dit gebruik? Het ons dit nodig? Kan ons dit iewers anders goedkoper kry, sonder om kwaliteit op te offer?
  • Praat met ander bruide oor pryse en doen ordentlike navorsing oor verskaffers.
  • Moenie meegevoer raak met al die nuutste tendense nie, kies een of twee en fokus eerder jou aandag hierop.
  • Kies verskaffers wat soveel as moontlik insluit by hul totale bedrag.
  • Skep n vergelykings-grafiek waarteen jy venues en verskaffers vergelyk met wat hul als insluit en wat jy ekstra gaan moet reel.
  • Onthou altyd hierdie aanhaling van Red Adair: “If you think it’s expensive to hire a professional to do the job, wait until you hire an amateur.”

Die hoofreel om te onthou is om te bly by wat belangrik is vir julle as n paartjie en jul geld daarop te spandeer.  Hou op jou troue met ander sin vergelyk en moet nooit vergeet waaroor die groot dag regtig gaan nie – ‘n viering van jul liefde vir mekaar!